Album Resensie: Bittereinder se SKERM

Resensie deur Floris Groenewald (@Flrsi)

Fotos deur Louis Minnaar

 

As ‘n kind van Snor City se Moot in die 90’s was hip-hop musiek slegs gehoor by verkeersligte, waar dit dreun vanuit die warmgemaakte kar langs jou. Groot ouens het hul arms (vol tatoeërmerke) by die kar se venster laat uithang. Dalk was daar selfs ‘n koeëlgat in die deur. Hip-hop was volksvreemd en gevaarlik, en nie nét omdat dit met geweld en misdaad geassosieer is nie. Maar nie meer nie.

Bittereinder se derde album, Skerm, toon ‘n duidelike progressie van hul musiek. Dit klink meer soos Die Dinkdansmasjien as ‘n Ware Verhaal, en is minder eksperimenteel – asof Bittereinder hul stem absoluut gevind en bemeester het. Meeste liedjies het hierdie keer ‘n saamsing koor, maar is geensins hoofstroom-musiek of meer kommersieel as voorheen nie, en nog net so poëties soos altyd.

Soos gewoonlik bevat Skerm heelwat liedjies waarin Bittereinder hul liefde vir (en verhouding met) hip-hop beskryf: “Skryf dit op jou voorkop – My eerste taal is hip-hop.” Oudergewoonte lewer Tim Beumers en Tumi Molekane weer insette op ‘n snit, en Hemelbesem kuier ook saam op Jou tyd sal kom. Dit is interessant om na Hemelbesem en Jaco van der Merwe se besef dat hulle ouer word in daai liedjie, en die aanvaarding van die dood in Doodsberig op die derde album van ‘n gevestigde en suksesvolle groep te luister. Ek hoop dit dui nie daarop dat Bittereinder se einde ooit gaan kom nie, maar eerder dat hulle bewustheid van veroudering en verandering hulle sal laat aanpas en bybly.

 

Bittereinder Skerm Wide Artwork

 

Behalwe vir Skerm, is Klankanatomie een van my gunsteling nuwe liedjies. Maar die interessantste snit is waarskynlik Tribute – die lirieke bevat blykbaar 44 verwysings na Suid-Afrikaanse bands en musiek, waarvan ek net 26 kon identifiseer – hoeveel kon jy identifiseer?

Bittereinder het ‘n paar jaar gelede hul verskyning op die toneel gemaak, en blitsvinnig hip-hop vir Afrikaners toeganklik gemaak. Ewe skielik is dit nie meer gevaarlik of intimiderend nie, en om saam te sing, te klets, of te bons in jou eie taal is vir baie mense heerlik – kyk maar net hoe die massas as ‘n eenheid beweeg by die naaste Bittereinder optrede. Dankie Bittereinder, dat ons ook kan bons. Nou skryf ons en hip-hop ook liefdesbriefies agter in die klas.

Die enigste negatiewe kant aan Skerm is dat ek nou al vandat ek dit die eerste keer gehoor het, wonder wat ‘n ‘polyrhythm’ is, en dit nou eers gaan moet navors…

 

Koop Skerm hier

Like Bittereinder hier

Volg @Bittereinder

 

 

1 Comment

  1. Pingback: Album Resensie: Bittereinder se SKERM | Flrsi

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *