Kabaal (klankbaan) – Interview en This Town is For Lovers Kersgeskenk!

Onderhoud deur Janus de Villiers (@hallojanus)

Fotos deur Daniel McCauley

 

Kabaal (klankbaan) is Floris Groenewald se solo folk-rock musiekprojek. Floris is nie iemand vir reëls nie, sien die wêreld in ander kleure en glo in die krag van musiek – of dis ten minste die gevoel wat mens kry as jy na sy musiek luister.

Pretoria-musiek wat probeer om die wêreld te verenig – dis Kabaal (klankbaan).

Ek het my vrees vir mans met intimiderende baarde probeer onddruk, en met Floris gesels.

 

Wie is Floris Groenewald?

Floris is ‘n besluitelose Pretorianer, en ‘n laat-80s kind. Ek’t grootgeword met ‘n liefde vir Saterdagoggend-cartoons en eers later regtig musiek ontdek, deur middel van ‘n ou klassieke kitaar wat in die huis rondgelê het. Ek het nog nooit in ‘n band gespeel nie, maar in 2008 my eie liedjies tuis begin opneem en op die internet uitgereik. In Oktober 2010 het die lewendige optredes van Kabaal (klankbaan) begin as ‘n solo sanger/liedjieskrywer projek.

Kabaal (klankbaan) bied Afrikaanse, Engelse, en tweetalige vertonings aan. Hoe moeilik is dit om vir altwee markte te probeer voorsien?

Ek dink nie dis regtig so moeilik van my kant af nie. Miskien maak die afwisselling dit juis makliker vir my. Ek probeer wel dinge soms apart hou. Die eerste album, Dit wat oorgebly het, is byvoorbeeld ‘n 100% Afrikaanse affêre met liedjies oor die liefde. Die tweede album sal heeltemal Engels wees, en met ‘n ander stem ander stories vertel.

Verskillende markte hou dit vir my opwindend en interessant, en die kans dat jy na twee Kabaal (klankbaan) shows gaan kyk en dieselfde liedjies hoor is bitter skraal. Dit word wel moeilik wanneer mense jou dalk in ‘n blik druk na aanleiding van een vertoning of produk. Dit wat oorgebly het skep dalk die indruk dat Kabaal (klankbaan) slegs oorspronklike, Afrikaanse liefdesliedjies sing. Dis deel van die rede waarom ek “This town is for lovers” so kort na die uitreiking van die album beskikbaar stel – om Engelse luisteraars ook darem iets te gee om hulle ore besig te hou!

Vertel ons van die nuwe liedjie, “This town is for lovers”?

Ek het “This town is for lovers” geskryf toe ek iets nuuts wou probeer en wegbreek van die styl van baie van my ander liedjies. Dit is beïnvloed deur folk-musiek en musikante soos The Cure, Muse, Admiral Freebee, No Dancing!, Tom Waits en Violent Femmes. Dis ‘n distopiese liedjie oor die soeke na vryheid en ontsnapping van wat ookal ons vasbind – hetsy liefde, gesag, klas, of geografiese grense.

“This town is for lovers” gaan gratis aanlyn beskikbaar wees. Hoekom jou musiek verniet weggee?

Party mense glo daarin om musiek verniet weg te gee, en dan maar geld te maak uit vertonings en MERCH. Ook dat dit help om roofkopïering te bekamp. Ander glo weer dat gratis musiek jou produk se waarde verminder. Ek is maar van nature ‘n besluitelose mens, maar ek sien ook die waarde in altwee argumente. Daarom probeer ek maar ‘n middelweg vind waar ek party van my musiek verniet weggee, maar ander wel verkoop. This town is for lovers se uitreiking het nou toevallig net voor Kersfees gekom, en daarom het ek besluit om dit sommer as ‘n Kersgeskenk (en ‘n dankie aan my aanhangers) gratis aflaaibaar te maak!  KLIEK HIER VIR DIE SNIT

 

Floris Groenewald – foto deur Daniel McCauley

 

Acoustic folk-rock is nie ‘n bekende, kommersïele genre in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie nie. Sal jy ooit iets meer kommersieel doen?

Die genre waarin ek werk is nie in lood gegiet nie. Dis maar ‘n kombinasie van die soort liedjies wat ek skryf, en die instrumente en hulp wat ek tot my beskikking het. Dit is bietjie van ‘n nismark wat nie kommersieel gevestig is nie, maar wel bestaan. Akoestiese folk-rock is wat nou maar natuurlik ontstaan het, maar definieer my as musikant defnitief nie.

Kabaal (klankbaan) het al geëksperimenteer met verskillende style en klanke, en sal defnitief nog meer eksperimenteer in die toekoms. En hoewel ek waarskynlik nooit egte popmusiek sal maak nie, sal ek graag met soveel moontlik idees, genres, en musikante wil werk.

Wat was ‘n paar van jou hoogtepunte van die jaar?

2012 was ‘n goeie jaar. Kabaal (klankbaan) het ‘n debuut vollengte CD, Dit wat oorgebly het, uitgereik. Ek het 10 November by Emoya Voetspoorfees in Bloemfontein gespeel, wat my eerste optrede buite Gauteng was. Ek het meer opgetree as die vorige jaar, musiek opgeneem en vrygestel, en beplan om in 2013 net groter en meer hoogtepunte te hê.

Beste album wat jy vanjaar gekoop het? Beste fliek wat jy gekyk het?Beste song wat jy geskryf het?

Beste album wat ek gekoop het: Muse se The 2nd Law. Algeheel beste album van 2012 (verniet op die internet beskikbaar): Collide, deur Look Out Kid. Los hande.

Beste fliek sal waarskynlik The Skin I live in wees. Of Moonrise Kingdom.

Ek het minder geskryf in 2012 as gewoonlik, maar ‘n paar liedjieskryf-eksperimente gewaag. So die beste liedjie is dalk Let’s not go back to Austin wat nog nie klaar is nie, en nog glad nie op die lys is van liedjies om uitgereik, opgeneem, of opgevoer te word nie.

Wanneer kan ons ‘n volgende album verwag?

Sodra ek dit kan bekostig. So as jy die volgende album wil hoor, koop solank die eerste een en ondersteun Kabaal (klankbaan) optredes! Ag maar solank “This town is for lovers” as ‘n voorskou van wat kom.

 

Floris Groenewald - foto deur Daniel McCauley

Floris Groenewald – foto deur Daniel McCauley

Wat is Kabaal (klankbaan) se plannevir die res van die jaar?

Na die CD-bekendstelling, en nou “This town is for lovers,” sal die res van 2012 redelik stil wees. Kabaal (klankbaan) sal weer by Cafe Barcelona wees op 14 Desember, en maar hoofsaaklik konsentreer op agter-die-skerms werk om in 2013 weer so veel as moontlik op te tree.

 Volg Kabaal (klankbaan) hier

Like Kabaal (klankbaan) hier

 

 

1 Comment

  1. Floris's Boy Friend

    November 26, 2012 at 5:59 pm

    What the f**k is he saying? I can’t read Afrikaans :/

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *