Ontmoet Laurika Rauch Voor Liefde By Die Dam

Deur Dee Theart (@deetheart)

Foto: Verskaf

 

Die tyd het amper aangebreek vir Liefde By Die Dam vanjaar, hierdie Sondag 6 Augustus.  Ons sien veral baie uit na Laurika Rauch die jaar, en ons was gelukkig genoeg om ook met haar op te vang voor die show:

Ons sien ongelooflik baie uit na jou optrede by Liefde by die Dam – wat kan feesgangers verwag van jou optrede?
Baie dankie! My geheime wapen by die dam-optrede is Loki Rothman. Sy kitaarbegeleiding laat my bekende liedjies heeltemal nuut klink. Loki gaan ‘n solo of twee doen en die meeste mense sal die liedjies wat ons saam doen, ken.

Jy en Loki Rothman het al saamgewerk en saam opgetree – kan ons iets spesiaals verwag van julle saam op die verhoog by Liefde by die Dam?
Ek hoop so! Mense sê daar is n goeie energie tussen my en Loki op die verhoog. Ons beweeg verskillend – hy het n funky aanslag en ek is nogal stil, maar noudat ons al ’n hele paar solo-optredes saam agter die blad het, is daardie wonderlike sinergie wat tussen sanger en begeleier gebeur wanneer hulle mekaar ken en verstaan, al sigbaar. Dis vir my spesiaal en ek hoop die gehoor beleef dit ook so.

Jy is al oor die vier dekades bedrywig in die musiekindustrie – dis omtrent ’n mylpaal! Wat
sou jy sê is die grootste verskil in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie van jou beginjare tot nou toe?
Die grootste deel van die Kunstenaars is deesdae onafhanklik, en vervaardig hulle eie albums en baie ander produkte. So iets was heeltemal ongehoord toe ek begin het.

 

 

Is daar een liedjie van jou wat na al jou talle albumvrystellings steeds uitstaan as jou absolute gunsteling? Indien wel, hoekom?
Dis moeilik om te beantwoord. As ek sterk gepols word sal ek sê ‘Stille Waters’, wat deur my man Chris Torr geskryf is, maar daar is so baie ander liedjies van Chris soos Hot Gates, Die Gang, Stuur groete aan Mannetjies Roux en ander liedjieskrywers (Kinders van die Wind, Mis oor Jacobsbaai, Liza se klavier) wat vir altyd die toets van die tyd vir my sal deurstaan.

Enige opkomende projekte waarvan jy ons kan vertel?
Ek tree nog gereeld op en die nuutste projekte waaraan ek gewerk het was die show saam met Loki en ook die nuwe album, ‘Die Reis’ –  wat minder as ’n jaar gelede vrygestel is. Daar gaan mos maar baie tyd en energie in die bemarking van ’n nuwe album met videos, EPK’s en ander onderhoude wat gedoen word, so vireers is ek nogal besig met reis en optree. Daar smeul egter alweer nuwe idees – maar later daaroor.

Jy tree deesdae minder op – raak ’n mens meer selektief hoe ouer ’n mens word of verkies jy bloot om dinge rustiger te vat?
Sien antwoord bo! Ek IS meer selektief, maar ek werk nog baie. Maar ja, ek is definitief nou in ’n fase waarin ek prober om net te werk saam met lekker mense en ek doen hoofsaaklik shows wat ek graag wil doen en nie omdat ek dit moet doen nie.

Is daar ’n goue geheim of ’n brokkie raad wat jy met nuwe musikante kan deel?
Ek kan regtig nie raad gee nie. Ek verstom my oor die jong en nuwe musikante se toegewydheid. Hulle is gefokus en het besigheids ’savvy’ – en hulle musiek, en hoe hulle dit aanbied – is uniek en vreeslik spesiaal.

 

Woon Liefde by Die Dam, Sondag 6 Augustus tussen 10 v.m. & 6 n.m. by Emmarentia Dam. Vir meer info, loer hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *