Leer vir Harrebaard ken voor Park Acoustics

Hulle maak hulle Park Acoustics debuut, en Harrebaard, of ook “Die Ooms se Band” is meer as net ‘n reality-show op VIA.  Dis regte band-lede wat nou selfs daaraan dink om by elke kunstefees op te tree.  Ons het met Pierre van Pletzen gepraat:

Watter ander name was ook sterk moontlikhede vir die naam van die band, maar het dit ongelukkig nie gemaak nie? Oorspronklik was dit DIE OOMS SE BAND, dieselfde naam as die TV-program op VIA, wat ons nog besig is om te skiet. Maar gou het dit verander na DIE OOMS. Hiermee het ons ‘n rukkie saamgeleef tot ons besef het dit SÊ nie eintlik WATSE tipe musiek ons gaan speel nie, en dit kán dalk mense mislei dat hulle dink dis ‘n Boeremusiek-orkes. Ek het DIE ROCKIN’ OOMS voorgestel, dit sê onmiddelik ons is ooms maar ons gaan ROCK. Daar was ander name ook vanuit die geledere van die Band en VIA se mense, die regisseur, ens, maar ek kan hulle nie onthou nie. Daar was ook baie grappe gemaak, soos DIE PENSIOENTREKKERS, DIE LOOP-RAME, DIE GRYSKOPPE…  Toe kom Leon Ecroignard met HARREBAARD vorendag, en dadelik het ons besluit DIT is ons Band se naam.

Wat is die grootste les wat julle sover hieruit geleer het? Ek glo nie dat ons spesifiek iets soos ‘n les hieruit geleer nie, want meeste van sulke goed hét ons reeds geweet. Maar wat ek kan benadruk is dinge soos: Mens moet kan sáámwerk, mens moet BAIE oefen, harmonie en respek vir mekaar hê, mens moet samehorigheid opbou, ons moes ook hard en vinnig swoeg om 45 minute se musiek te skep, liedjies tower ‘n mens nie net op nie, en dat die lewe, veral as mens ouer is, NIE VIR SISSIES IS NIE. Ons moes ALLES wat ons moes doen, die Vergaderings, die Repetisies as Band, die Skietery aan die TV-program, onder gróót druk doen, met min tyd tot ons beskikking, so daar was nie TYD vir klein-menslike kakkies nie; ons moes dadelik saamstaan en hard daaraan werk dat ons nie MAG FAAL NIE!

 

Pierre van Pletzen – Harrebaard – Foto Henry Engelbrecht

 

Julle het al ‘n paar optredes gehad – wat is julle grootste challenge? Ons grootste uitdaging is die KLANK. Mens sukkel om mekaar te hoor speel, ek kon nog nie een keer vir Frank hoor sing nie, ens. Jy is totaal afhanklik van wat die Venue jou verskaf, en aan die talent en gewilligheid van hulle klank-ingenieur.

Kan ons dalk ‘n ‘toer’ verwag in die nabye toekoms? ‘n Toer is miskien moeilik, meeste van ons het ander werk en verpligtinge wat ons stadsgenonde hou. Maar as ons, met ons Bestuurder, Giep van Zyl, gereël kán kry, sal ons dit beslis doen. Ons hoop om gou al by die Kunstefeeste op te tree.

Wie is die ‘moeilikste’ band-member en in watter opsig? A, jy’t moed om só ‘n vraag te vra. As ons so iemand gehad het, sou dit nooit by die pers uitkom nie, we are brothers in arms, sir. Feit is, ons hét nie een so ‘n member nie. Ja, ons elkeen het al by tye ‘n bietjie moerig geraak, meestal met die skiet-proses, of as ons sukkel by ‘n Venue, maar dis nie as gevolg van ‘moeilik’ wees nie, dis omdat ons ál vier perfeksionisties is met baie jare se ondervinding onder ons belde oor hóé ‘n ding gedoen moet word – ons vat nie stront van enigiemand nie, veral nie van iemand met ‘n attitude nie, ons vier se shit-detectors is hoogs ontwikkel en ons ruik ‘n busker gou-gou uit – en dán sál die akkies die mure wit van die velocity tref.

 

Frank Opperman – Harrebaard – Foto deur Henry Engelbrecht

 

Gaan julle aanhou optree na die reeks verby is? O, beslis ja!!!  Nie één van ons wil stop nie, dis ons PASSIE, ons self geniet dit té veel! En daar’s geen rede om nou te stop nie, die response en terugvoering wat ons van mense afkry is wonderlik, die mense hou van ons liedjies, ons klank, en van die Band-lede. Daar’s ‘n TV-program gemaak oor die hele proses, publisiteit dus – dit het min Bands al gehad – en ons is goed-ingestudeer, met nog heelwat liedjies wat na bo gaan opborrel. Neewat, dinge  lyk baie goed vir ons…so, THE SHOW WILL GO ON!

Julle speel by Park Acoustics – was julle al daar gewees?  Ek weet nie van die ander nie, maar ek was nog nooit daar nie. Ek sien baie uit daarna en kan nie wag om agter die dromme in te skuif nie

 

Park Acoustics die Sondag!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *