Liefde By Die Dam 2017 – Sowaar ’n Feestige Affêre!

Dee Theart (@deetheart)

Fotos deur Kurt Sassenberg (@SassenbergUP)

Met die strelende klanke van Majozi wat feesgangers reeds by die “voordeur” verwelkom, voel ’n mens sommer met die intrapslag tuis by Liefde By Die Dam 2017. Die lowergroen grasperke van Emmarentia Dam groet ’n mens en bied die belofte van ’n dag gevul met lafenis vir die siel. Dis duidelik dat die feesorganiseerders nie teruggehou het om die tweede edisie van hierdie jaarlikse gebeurtenis werklik iets besonders te maak nie!

Majozi se optrede het vlietend gevoel in die geskarrel na ’n lekker sitplekkie in die massas, en ek vermoed sy nuwe kapsel (vlammende rooi) het dalk meer aandag as sy liedjies getrek. Dis ’n jammerte dat baie mense Majozi heeltemal gemis het as gevolg van die lang tou by die ingang en die feit dat hy dieselfde tyd begin het as wat hekke oopgemaak het. Die soet klanke van Majozi het plekgemaak vir iets heelwat rowwer: Jo Black, oftewel die man met die baard. In die meeste gevalle verkies kunstenaars dit dat hulle musiek die praatwerk doen, maar nie Jo Black nie. Elke liedjie het voorafgegaan met ’n ellelange staaltjie of verduideliking, wat moontlik grens aan preek. Dit was wel ’n Sondag, so dalk was ’n inspirerende boodskap net wat die gehoor nodig gehad het. Dis nie moeilik om te sien hoekom hy so populêr is nie. Gewilde gunstelinge soos “Bring Die Hoop Weer Terug” en “Skepe” klink goed met ’n lewendige orkes en alhoewel Jo se stem nie ewe konsekwent bly nie, maak sy grootse persoonlikheid daarvoor op.

 

Jo Black – deur Kurt Sassenberg

 

Dis asof die organiseerders ’n vet kans gevat het deur vir JR op die feesprogram te plaas. Sy hip-hop-musiek het nie groot aftrek by die oorheersend Afrikaanssprekendes geniet nie en het agtergrondmusiek geword terwyl die gehoor lekker saamgekuier en nog ’n yskoue by die kroeg gaan koop het. Riana Nel het wel almal aan haar lippe laat hang en voor ek my kon kry, het ek elke woord van “Timbuktu” en “Soos Die Son” saamgesing. Haar liedjies is daai’s wat jy ken, maar nie seker is presies hoe nie. Ten spyte daarvan dat sy met ’n mooie bababoepie spog, het sy haar alles gegee en selfs ’n paar liedjies sommer so op ingewing van die oomblik opgemaak. Een daarvan was vir ’n paartjie wat hulle vyfjaar herdenking vier en ’n mens kon amper hoor hoe die skare ’n gesamentlike “Aaaaaw!” uitlaat.

 

Jo Black – deur Kurt Sassenberg

 

Die dag het ’n interessante wending geneem deur ’n legende met ’n nuwer sensasie saam te span, in die vorm van Laurika Rauch en Loki Rothman. Laurika raak nie ouer nie en soos goeie rooi wyn, klink haar treffers soos “Kinders Van Die Wind” en “Op Blouberg Se Strand” selfs nog beter in 2017 as dekades gelede. Loki se meesterlike kitaarspel voeg ’n dinamiese element tot die alreeds ikoniese liedjies, en stroop nie van die mooie eenvoud nie, maar voeg eerder net ’n bietjie kleur by. Die gehoor se luidrugtige samesang was oorgenoeg bewys dat Laurika se musiek steeds volksbesit is. Tresor het die partytjie daarna verder lewendig gehou met ’n diverse musikale tentoonstelling.

 

Francois Van Coke – deur Kurt Sassenberg

 

Die rockers se wens was bewaarheid toe Francois van Coke en Die Gevaar hulle plekke inneem vir die hardste optrede van die dag. Van wilde kopskud en in die gehoor duik, ken Francois sy gehoor en weet presies hoe om hulle tevrede te stel. ’n Interessante neiging het wel kop uitgesteek, toe verskeie feesgangers plakkies na Francois begin gooi het. Ek vermoed dit was meer ’n teken van affeksie as aversie.  Hy het dit op ’n komiese wyse hanteer en ’n plakkie of twee geruik en terug in die massas gegooi. Die plakkie-tendens het darem oorgewaai teen die tyd dat Die Heuwels Fantasties hulle opwagting gemaak het vir die feesdag se grande finale. Hulle was meer energiek as wat ek hulle in ’n lang tyd gesien het en bekendes snitte soos “Leja”, “Sy” en “Pille Vir Kersfees” raak eenvoudig nie oud nie. Hulle nuwe enkelsnit, “Bietjie Hoop”, asook Francois se verskyning op “Sonrotse” het uitgestaan.

 

Die Heuwels Fantasties – deur Kurt Sassenberg

 

Dit is ’n misterie hoekom daar so min “collaborations” op die verhoog was, juis omdat so baie van die kunstenaars wel al snitte saam vrygestel het. ’n Mens dink byvoorbeeld aan Die Heuwels Fantasties en Riana Nel se “Doen Net Wat Ons Wil” en Die Heuwels Fantasties en JR se vele samewerkings, soos “Koeëlbaai” en “Our Heritage”. Dit sou die dag selfs nóg meer spesiaal kon maak.

Liefde By Die Dam 2017 was een vir die boeke en volgende jaar maak ons hopelik weer so!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *