Luna Paige se ‘Storielied’ – Resensie

Deur Dee Theart (@deetheart)

Foto’s : Hannie Du Plessis

 

As ’n mens een ding moes uitsonder wat ons as Suid-Afrikaners die meeste bind, is dit sonder twyfel stories. Of dit nou ’n Boesman gelykenis of ’n vreugdevolle vertelling van bevryde slawe in Raithby is; dit bly stories. Mensestories, emosiestories, hartstories. Die idee om inspirasie vir liedjies uit kortverhale en romans te put, is iets heeltemal nuut op die plaaslike en selfs internasionale musiekfront. Liedjieskrywer en sangeres, Luna Paige, het hierdie interessante konsep met die finansiële bystand van ClemenGold ywerig aangepak. Die dertien selfgeskrewe liedjies bestaan uit tien liedjies wat geskoei is op kortverhale en romans, een verwerkte FAK liedjie en twee Luna Paige oorspronklike snitte. Die eindproduk is ’n CD en lewendige DVD opname (deur Goosebump Productions), genaamd ‘Storielied’.

Luna Paige deur Hannie du Plessis

Luna Paige deur Hannie du Plessis

Luna het besluit op ’n sprokiesagtige vertoning van ‘Storielied’ in die Durbanville Ouditorium om die DVD te verfilm. Alhoewel die Ouditorium groot is, kan ’n mens jouself verbeel jy kyk die vertoning vanaf ’n gemaklike rusbank in jou sitkamer. Hierdie knus atmosfeer word deurgetrek in al die elemente van die produksie. Die woord ‘produksie’ word opsetlik gebruik, want ‘Storielied’ is verseker nie jou alledaagse musiekkonsert nie. Bekende akteur en regisseur, Albert Maritz, is ingespan as regisseur. Op die verhoog pryk ’n volle orkes met van ons land se mees talentvolle sessiemusikante, agtergrondsangers en Luna, uiters stylvol geklee in ’n blou aandrok, met foutlose grimering wat haar voorkoms mooi afrond. Die algemene stilering van die verhoog en kunstenaars is goed gedoen, maar dis ’n jammerte dat dit nie konsekwent gehou is nie. Hier en daar is iemand op die verhoog net te gemaklik geklee vir die spoggerige stemming van die aand en staan ongelukkig soos ’n seer vinger uit.

 

Hierdie konsepalbum/DVD skop af met ‘Altyd Kom Die Somer Weer’, wat inspirasie uit ’n Margaret Bakkes verhaal getrek het. Dit is ook hierdie lied wat die Storielied projek vir Luna op dreef gesit het. Dis verseker nie die sterkste snit op die album nie, maar kry tog die gehoor in die regte stemming vir die aand. Alhoewel die musiek wat Luna aan die Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers bied, gespesialiseerd en enig in sy soort is, sal ieder en elk kan identifiseer met die onderliggende temas. Die liedjies kom duidelik uit ’n diep, persoonlike plek vir Luna as kunstenaar en ’n mens kan nie anders as haar braafheid te bewonder nie. Dit sit nie enige een se skoene om bekroonde skywers soos Elias P.Nel, Dana Snyman en André P. Brink se stories in liedjies te vergestalt nie.

 

Die liedjies op die album is uiteenlopend. ‘Aan Die Ander Kant’ gee ’n blik op mense se fassinasie met sepies, terwyl ‘Die Juwele In Jou Oë’ na ’n gekompliseerde, verbode verhouding tussen ’n ouer man en ’n jong verleidster kyk. Hierdie boeiende liedjie staan verseker uit op die DVD. Die dramatiese element word pragtig oorgedra deur Luna en haar musikante en die opbou na die klimaks is elektries. Luna raak nostalgies in ‘Ouma Se Hande’ as die verteller terugdink aan die bekende reuke en geselsies by haar ouma. Op ’n heel ander noot wonder Luna weer saam met Ingrid Winterbach oor die stryd tussen evolusie en godsdiens in ‘Die Skulp’.

Luna Page by Hannie du Plessis

Luna Paige deur Hannie du Plessis

Die DVD gee die kyker ’n blik op wat dit verg om so ’n volskaalse produksie op die planke te sit. Ja, daar is ’n foutjie hier en daar, maar dit is juis die verskil tussen ‘n CD en ‘n DVD. Daar is nie kans vir regmaak en oordoen nie – wat jy sien is werklik en in die nóú. Luna is verseker ’n beter sangeres as spreker, maar tog maak die effense kinderlikheid haar storievertelling tussen die liedjies menslik, onpretensieus en sonder fieterjasies. Die besluit om voor elke liedjie ’n verduideliking van die storie te gee is wys, omdat die gehoor nie noodwendig vertroud is met die romans en kortverhale nie. Sodoende word hierdie ook ’n opvoedkundige taak, wat hopelik die gehoorlede sal aanspoor om meer boeke in plaas van skinderblaaie te verorber. ’n Ander noemenswaardige toevoeging tot die DVD is die kontemporêre danser, Alfonzo Freemantle se fisiese uitbeelding van twee van die liedjies. Sy beweeglike interpretasie laat ’n mens verwonderd toekyk en besef dat ’n mens se liggaam instinktief op emosies reageer.

 

Die talent borrel oor op die verhoog. Benewens Luna wat ’n meester agter die klavier en kitaar is, is bekroomde musikante soos Schalk Joubert, Gerald Clark en Kevin Gibson ook deel van die geselskap. Melding moet ook gemaak word van Ronan Skillen vir sy uitstekende perkussie en die gebruik van inheemse instrumente. Die DVD sluit ook bonus materiaal van Luna se eerlike onderhoude met van die skrywers van die romans en kortverhale wat sy gebruik het, in. Skaf gerus hierdie skatkis van musiek aan. ‘Storielied’ is propvol juwele wat jou liries en musikaal sal roer.

0 Comments

  1. Stefan

    January 17, 2013 at 1:54 pm

    Ek was by die lewendige opvoering gewees en het ook ‘n hele klomp van die DVD’s gekoop om as geskenke weg te gee. Luna Paige se Storielied is ‘n totaal unieke bydrae tot musiek. Sy kry dit reg om op ‘n diep vlak te konnekteer met die wonderlike stories en die mense en idees daarin. Elke lied is propvol prag, talent, heimwee, guts, misterie en humor – elkeen ‘n juweel in eie reg. Sy betrek die gehoor, die skrywers en al haar mede-musikante en voeg ons aandag op aspekte wat so maklik tragies vergete kan bly in die moderne lewe. In haar musiek raak mens sterk bewus van die tydelikheid van menswees, en sodoende van die belangrikheid van korrekte verhoudings met mekaar en met die aarde. Luna Paige se musiek is terselftertyd gesofistikeerd en aards en is ligjare verwyder van die tipiese Afrikaanse popmusiek. Sy is ‘n fyn musikant wat haar talent en unieke stem gebruik om intense en eerlike maar altyd genotvolle boodskappe en waarnemings oor te dra, met potensiaal om werklik ‘n verskil te kan maak in mense se lewens. Hierdie vermoe maak haar veel meer as net ‘n talentvolle musikant.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *