SAMS CD Resensie: Zinkplaat – Retrospekulasie

Resensie deur Floris Groenewald (@flrsi)

Fotos verskaf deur Rachelle Crous Publicity

 

Een van die eerste goed wat ek opgemerk het van Zinkplaat se nuwe CD, Retrospekulasie, was dat daar geen dankies/”liner notes” in die boekie is nie. Dis dikwels my gunsteling deel van die albumomslag. Daar’s net ‘n enkele generiese dankie-sê boodskappie onder die CD versteek. Omdat Retrospekulasie Zinkplaat se laaste album is en die einde van ‘n 10 jaar-lange reis merk, verwag ‘n mens amper meer.

Maar dan druk jy “play” en die eerste snit (ook Retrospekulasie) sê vir jou “dankie”, “totsiens”, en sommer ook “hier gaan ons weer, vir oulaas”.

Zinkplaat se kitare, tromme, en stemme, wat nog steeds soos ‘n Karoo-stofpad klink, besing ons met lekkerluister lirieke wat wil-wil tonge knoop. Alliterasie, onverwagse rymwoorde en woordspeling hou die liedjies interessant en lewendig ten spyte daarvan dat dit soms bietjie droewig en donker raak. Retrospekulasie is rustige, Sondagmiddagmusiek met net genoeg skop om jou ouma nie om te krap nie. Maar dit weet jy klaar as jy van Zinkplaat hou.

 

Zinkplaat - foto deur Mark Reitz

Zinkplaat – foto deur Mark Reitz

 

Behalwe vir die titelsnit voel die album nie te nostalgies of sentimenteel nie, alhoewel daardie emosies seker deur enige Zinkplaat-aanhanger gehoor sal kan word. Liedjies soos Skiet ‘n rigting handel oor paaie wat skei en die drang om “hierdie plek [te] verlaat”. Hel ou pêl begin dalk met ‘n spesiale plek in die hel, maar bou op tot ‘n saamsing-koor met ‘n blik op die mens se verwoestende neigings (“ons staar in die son tot ons almal blind is”). Filistyne is weer ‘n swaar en somber “halleluja”, ‘n versameling van donker beelde en herinnerings aan “ons vyande”.

As ‘n geheel is hul laaste album ‘n digte, poëtiese produk wat nou nie grense gaan verskuif of die wiel herontwerp nie, maar genoeg dink, sê, en sing dat briefies, dankies, en ‘n erkenningslys in die boekie nie eens nodig is nie.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *