Straatligkinders Vans™Daylife Mayhem Fest

Geskryf deur Dee Theart (@deetheart)

Foto’s geneem deur Vetman van der Naam (@vetmanvndrnaam)

Straatligkinders is terug vir nog ‘beste tye’. Suid-Afrika smag nou al lank na nuwe klanke van dié viermanskap en as als volgens plan verloop, word hulle vierde vollengte album, getiteld ‘Konings met Verskonings’ voor die einde van 2012 vrygestel. As ’n lusmakertjie vir die album en om ons te herinner hoekom ons in die eerste plek op die band verlief geraak het, het hulle ’n lekker toer deur die land kafgedraf. Ook die Wes-Kapenaars was gelukkig genoeg om die manne vir die eerste keer in ’n hele paar jaar in aksie te sien. Een van hulle gigs was by Hok 11 in Durbanville, as deel van die Vans™Daylife™ Mayhem Fest. 

Straatligkinders by Vetman design & photography

“Miljoene myle ver gereis om saam met jou te sing en dans.

Die sterre het ons mooi gelei, die engele het saam gereis.

Beste tye was ons saam in oomblikke wat nooit vergaan.”

 

Acts soos Pik Swart en Versus The Wolf kry die mense wat van vroegdag af kuier in die regte bui en op ’n buitebaan wys professionele BMX-ryers hulle staal. Soos wat drie-uur in die middag nader sluip, is dit duidelik dat baie mense net daar is om Straatligkinders weer in aksie te sien. Terwyl die band begin opstel en sound check, skuifel die entoesiastiese gehoor nader met die wete: Hier kom ’n ding!

Straatligkinders val weg met ‘Avontuur van ’n Hartbreek’ en dit voel meteens of ’n mens weer terug is in die jaar 2006, toe ons die eerste keer aan die band bekendgestel is. Dieselfde eerlikheid; dieselfde rou emosie. Die gehoor hang aan Bouwer Bosch se lippe en sing elke woord kliphard saam. Dis duidelik dat hierdie gehoor dieselfde mense is wat ’n traantjie of twee gepik het toe die groep sowat twee jaar gelede hulle hiatus aangekondig het. Liedjies soos ‘Klassieke Geveg’ en ‘Die Beskermer’ het nog presies dieselfde uitwerking, maar daar is ’n nuwe energie hoorbaar. Dit is asof die Straatligkinders ‘vakansie’ nuwe perspektief en waardering vir elke band lid meegebring het. Hulle is terug – nie omdat hulle moet nie, maar omdat hulle wíl.  Hein Kruger doen sy kenmerkende air jumps met sy baskitaar, Benjamin de Jager speel sy hart uit op kitaar en Ruan Kruger slaan daai dromme soos net hy kan. Dis duidelik dat Bouwer as lid van Dans Dans Lisa en in sy solo-loopbaan as front man en sanger gegroei het. Hy weet presies hoe om ’n gehoor gelukkig te hou en die atmosfeer lig en vermaaklik te maak.

Straatligkinders by Vetman design & photography

Wat begin het as ’n akoestiese Youtube video van Bouwer, het Straatligkinders se eerste single van die opkomende album geword. ‘Duiwel Dans’ is die perfekte liedjie om die nuwe Straatligkinders mee voor te stel. Getrou aan hulle oorspronklike klank, maar met genoeg nuwe elemente om ’n mens geïnteresseerd te hou vir dit wat kom. Bouwer stel die verhouding tussen die band en gehoor as ’n first date voor. ’n Perfekte metafoor, want daar is wel ’n paar awkward oomblikke, maar ook ’n vlinders-in-die-maag-gevoel van opwinding vir beide partye. Bouwer sê toe dat die band net een vraag graag aan die gehoor (hulle ‘date’) wil vra … ‘Kan Ek Met Jou Dans?’ Nodeloos om te sê, was die date se antwoord, ja!

 

“Dit was nie altyd ’n feëverhaal nie.

Ons wou opgee en ons droom verloën

Daar was ’n tyd toe ons skaars oorleef het

Waar ons vriende ons deurgedra het.”

 

Welkom terug Straatligkinders! SA Music Scene is saam met julle opgewonde oor die nuwe album. Kyk uit vir die resensie.

 

“Ek is dankbaar jul het my geleer van drome leef.”

(Alle lirieke geneem uit Straatligkinders se ‘Reisigers’.)

Straatligkinders by Vetman design & photography

Straatligkinders by Vetman design & photography

Straatligkinders by Vetman design & photography

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *